Trekkers wat presies vir hulle taak gemaak is, is noodsaaklik vir ՚n boer wat vooruit wil boer. Louis van der Walt boer al vir die afgelope 26 jaar op die plaas Spitskop tussen Louis Trichardt en Vivo in die verre Noorde. “Ek het destyds met een trekker begin en oor die jare het die plaas uitgebrei tot waar die boerdery vandag is,” vertel Louis.

Onder Louis se leiding het LC Spitskop Boerdery gegroei tot ՚n gemengde boerdery wat vandag die volk aan die smul hou met aartappels, mielies, tabak, sitrus, grondboontjies, wild en ՚n spogkudde Bonsmara-beeste. “Ons het twaalf jaar gelede met die Soutpansberg Bonsmarastoet begin. Ek het die beste beskikbare genetika gekry om die trop te teel, en nou kan ons al ons eie genetika teel en jaarliks bulle op die veiling sit.” Louis weet al vir jare lank van Massey Ferguson-trekkers se eerste-klas trekkers, maar in 2020 het hy besluit om sy hele vloot te vervang met die mooi rooi van Massey Ferguson se Global-reeks.

“Die grootste redes vir my besluit om alles oor te skakel na Massey Ferguson is die goeie waarde vir geld, koste van eienaarskap, goeie gehalte, die naverkopediens en die dieselverbruik. Ons het die Massey Ferguson-trekkers se dieselverbruik vergelyk met die ander trekkers wat ons op die plaas gebruik, en hulle is beslis ligter op brandstof,” vertel Louis. “Ons het besluit om die eerste tien trekkers met Massey Fergusons te vervang en ons sal die res van die vloot oor die volgende jaar ook oorskakel,” vertel Louis.

LC Spitskop Boerdery

Spitskop Family

Spitskop Family

Die eerste van die nuwe span trekkers is reeds in Maart 2020 aan Louis gelewer. Dit was die MF 6713R met selfstuur presisie tegnologie wat Louis gebruik om die aartappels mee te plant. Die MF 6713R gebruik die Trimbel RTX-stelsel om presisieboerdery toe te pas. Hy lewer 98 kW en dien die boer met die volgende nuttige kenmerke:

  • ’n Viersilinder AGCO Power enjin wat aan vlak 2 van die internasionale uitlaatgasstandaarde voldoen.
  • Dyna-4 semi-kragskakelingtransmissie. Dit beteken dat jy nie die koppelaar hoef te trap vir ratverwisselings nie; net as jy tussen ratstrekke skakel.
  • Swaardiens transas met oliebadskyfremme en ’n elektro-hidroulies beheerde ewenaarslot.
  • Geslotesentrumvragvoel (closed centre load sensing – CCLS) hidrouliese stelsel met ’n maksimum vloei van 110 ℓ/minuut of 200 bar.
  • Hyservermoë van 5 200 kg met elektroniese hyserarmbeheer (ELC) en Kategorie III vaste balskakels.
  • Tot drie dubbelwerkende hidrouliese aftappunte wat ’n konstante drukking soos vooraf deur die operateur bepaal handhaaf, uitskopfunksie om ’n hidrouliese gereedskapstuk in plek te hou wanneer dit die voorafgestelde posisie bereik en wat glad nie drup of lek nie.
  • Onafhanklike kragaftakker met drie spoedkeuses: 540-, 540E en 1 000 opm. Die E by die tweede 540-spoed staan vir ekonomie, want dit stel die operateur in staat om die kragaftakker teen 540 opm aan te dryf teen ’n laer enjinspoed as wat normaalweg daarvoor benodig word. Dit bespaar brandstof en verminder vibrasies en geraas. Die boer kan kies tussen ՚n aandryfas met 6 of 21 groewe.
  • Die vierwieltrek-vooras het ’n Hydrolock-ewenaar met elektro-hidrouliese inskakeling.
  • Die kajuit het lugversorging, ’n kantel- en teleskopiese stuurkolom en ’n analoog- en digitale instrumentepaneel met ’n werkver-rigtingsmonitor.
  • Vir onvoorwaardelike vastrap is die MF 6700R-reeks toegerus met 460/85R38- en 380/85R28-Trelleborg-straallaagbande.
  • Die trekker sluit 2 x 3 x 50 kg agterwielgewigte en 14 x 55 kg voorste gewigte in.
n Ry mooi rooi Massey Ferguson trekkers in gelid op Spitskop Boerdery om Louis van der Walt te help om nog verder vooruit te boer

n Ry mooi rooi Massey Ferguson trekkers in gelid op Spitskop Boerdery om Louis van der Walt te help om nog verder vooruit te boer

Vir die daaglikse take op Spitskop Boerdery het Louis besluit om die MF 5710-modelle in te span. Drie van hierdie trekkers is toegerus met Massey Ferguson laai-grawe en van die ander MF 5710’s is aangepas om aan spesifieke behoeftes te voldoen. Dit sluit in hoogloopbande met ՚n hoër profiel wat verseker dat die trekkers maklik tussen die aartappel-rye pas en nie die hoë walle van die aartappellande raakry nie.

Die MF 5710-oopkajuittrekker spog met al die nuttige kenmerke van die Massey Ferguson Global-reeks. AGCO het hierdie reeks trekkers ontwerp, op grond van inligting wat Massey Ferguson-handelaars van regoor die wêreld ingesamel het.

“Omdat AGCO self met die Massey Ferguson-agentskappe werk kry ons baie goeie terugvoer van die boere se praktiese ervaring met die produk. Daarvolgens maak AGCO die nodige aanpassings om te sorg dat Massey Ferguson-trekkers presies pas by elke boer se behoeftes,” vertel Ryan Clark, produkbemarkingsbestuurder van AGCO Afrika. Ryan spesialiseer in die Massey Ferguson-trekkers van 100 kW en laer. “Een van die Global-reeks se doelwitte is om die koste van eienaarskap te beperk sodat die boer die beste waarde vir sy geld kan kry,” verduidelik Ryan.

Massey Ferguson

Hannes van Deventer van Trophy Trekkers en Implemente in Letsitele is die Massey Ferguson-agent wat die trekkers aan Louis gelewer het. “’n Boer koop by iemand wat hy ken en wat hy kan vertrou om goeie diens te lewer,” vertel Hannes. “Ons weet dat geen boer kan bekostig om trekkers te laat staan terwyl die werk wag nie. Dit is ՚n belegging wat moet werk. Daarom lewer ons die beste diens so spoedig as moontlik.”

Louis van der Walt se MF 6713 R-trekker is aangepas om perfek tussen die rye van sy aartappellande te pas en om nie die walle met hulle pense plat te sleep nie.

Louis van der Walt se MF 6713 R-trekker is aangepas om perfek tussen die rye van sy aartappellande te pas en om nie die walle met hulle pense plat te sleep nie.

Louis is in sy skik met die diens wat hy van Hannes en Trophy Trekkers ontvang. “Ek hoef nie vir Hannes te wag nie. As ek ՚n probleem het kan ek vir Hannes bel en weet dat hy altyd beskikbaar is om te help.” Hannes vertel ook van sy ervaring met AGCO Afrika. “Die ondersteuning wat ons as agentskap van AGCO ontvang is puik. Daar is nie ՚n probleem met voorraad nie, en wanneer daar ՚n probleem is wat ek nie self kan oplos nie, is AGCO altyd daar met die regte raad. Hierdie tipe ondersteuning aan ons verskaffers maak ՚n reuse verskil in die diens wat die boer ontvang,” sê Hannes.

“Ek sal enige boer aanbeveel om by Massey Ferguson aan te sluit vir die beste waarde vir geld, lae koste van eienaarskap, naverkopediens, en brandstofvebruik,” verklaar Louis.

Vir meer inligting oor die voortreflike MF Global-reeks, maar ook oor Massey Ferguson se volle reeks staatmakers vir die boer, besoek www.masseyferguson.co.za, of skakel vir Lenard Lingenfelder by 066-581-7489. Of gaan kyk self by jou naaste vriendelike, behulpsame handelaar.

AGCO Africa Contact
Robert Keir
Brand Marketing Communications Specialist
082 349 7441
Robert.Keir@agcocorp.com
www.agcocorp.com

This article was featured in ProAgri’s publication [ProAgri – April 2021]