Johannesburg, Suid Afrika, 22 April 2021: ʼn Nuwe standaard in stropers is plaaslik deur AGCO Africa bekendgestel met die Fendt IDEAL-reeks. AGCO Africa het ten nouste met sy wêreldwye sentrums van kundigheid saamgewerk vir die stropers wat heeltemal nuut ontwikkel is. Spesiale aandag is geskenk aan doeltreffendheid, korrel- en strooigehalte, betroubaarheid en gebruikersvriendelikheid, tesame met ʼn revolusionêre sensortegnologie vir optimale masjienstelling.

“Die eindresultaat is ʼn reeks wat perfekte resultate onder enige oestoestande lewer”, sê Robbie Hall, Produkbemarkingsbestuurder vir Gold Harvesting, AGCO Africa. Die Fendt IDEAL-reeks is beskikbaar in ʼn enkel- of dubbelplatform met wiele. PL is die aanwysing vir para-level vir uiterste heuweloeswerk terwyl die T (track) beskikbaar is in 30″ en 36″.

Die vier modelle is die Fendt IDEAL 7, 8, 9 en 10. Die Fendt IDEAL 7 is ʼn enkele heliksrotor, terwyl 8, 9 en 10 dubbele heliksrotors is met verskillende 3D-golfpanontwerpe. Die interne werking van die dubbele heliksrotorstelsel voorsien die korrelgehalte van ʼn hibridiese masjien met die kapasiteit en deurset van ʼn rotasiemasjien. Die Fendt IDEAL 7 het ʼn AGCO Power-enjin terwyl die 8, 9 en 10 verskillende MAN-enjins het.

Class 7, 8, 9, 10 Fendt Combine Harvesters

Met die bekendstelling aan die Suid-Afrikaanse mark vanaf April 2021, sal die Fendt IDEAL 10 die mees gevorderde stroper wees wat op die mark beskikbaar is, volgens mnr. Hall. Hierdie toonaangewende masjien, wat bekend gestel is by Agritechnica 2019, maak nie gebruik van gewone stuurwielbeheer nie, maar is toegerus met die IDEALdrive-stuurstelsel as ʼn opsie op al die spoorbandweergawes.

Die Fendt IDEAL 10T het ʼn nuwe MAN 16.2-literenjin wat voldoen aan Stadium V- Europese en Vlak 3A- plaaslike vrystellingstandaarde en het ʼn maksimum lewering van 790 pk., wat 143 meer pk. is as die tweedegrootste Fendt IDEAL 9-model. Die topmodel het ʼn nuwe skoonmaakstelsel wat spog met ʼn 15% groter skoonmaakkapasiteit.

Fendt IDEAL 10T Cyclone Cleaning System

Danksy die Cyclone-skoonmaakstelsel val die korrels ondertoe na die boonste sif deur twee boogvormige dubbelvaltrappe. Die boogvorm stel die swaarder korrels in staat om in die onderste deel te versamel, terwyl die ligter dele bo versamel. Die boogvormige trappe voorsien ʼn groter luguitlaat wat die lugvolume merkwaardig kan verhoog vir ʼn selfs doeltreffender skoonmaakproses.

Met ideale tweevalvlakke word die meeste van die kort strooi en kaf op die eerste vlak geskei en die oorblywende nie-korrel-komponente (MOG) op die tweede vlak. Die skoonmaak vind plaas oor vier afdelings van die Fendt IDEAL 10T, en die twee terugkeervlakke word geoptimaliseer deur IDEALbalance, om eweredige verspreiding en dekking te verseker ten opsigte van die voorbereidings- en sifvloer.

Fendt IDEAL Dual and Single Helix Rotor

Dieselfde dubbele heliksrotor as op die Fendt IDEAL 8 en 9 het nou ʼn groter skeidingsoppervlak vir die topreeksmodel. Twee addisionele skeierholtes voeg 12% by tot die konkawe oppervlakarea. Met ʼn skeidingsarea van 4.54 m2, spog die stroper met ʼn selfs groter skeidingskapasiteit vir groter deurset.

Die nuwe IDEALdrive-stuurstelsel vervang die stuurkolom heeltemal. Dit stel die masjien in staat om proporsioneel beheer te word deur ʼn stuurstok aan die linkerkant te beweeg, met dieselfde stuurstokfunksie op die regterkantste armleuning. Die linkerkantste armleuning kan weggevou word vir maklike toegang tot die bestuursitplek. Die stuurstelsel voorsien ook die beste uitsig oor die voorste, breë hegstukke, benewens die perfekte uitsig, en ʼn padspoed van 40 km/h is standaard met IdealDrive.

IDEAL Combines Table and Crop Elevators with Chain feeders

IDEAL Combines Table and Crop Elevators with Chain feeders

Die Fendt IDEAL 7 en 8 het drie voerkettings in die graansuier. Met die Fendt IDEAL 9 en 10 is die lewering selfs hoër omdat dit vier voerkettings het. Die voorste toevoerdrom is toe op alle modelle. Die kettingspanning en -hoogte kan maklik verstel word deur die draai van ʼn skag om die hoogte tussen 50 mm en 98 mm te wissel om by alle gewassoorte aan te pas.

ʼn Belangrike onderskeier is die enkele (Fendt IDEAL 7) of dubbele heliks- (Fendt IDEAL 8 tot 10) verwerker wat die hoogste lewering en die beste dorsgehalte lewer terwyl die gewasse sagkens hanteer word en energieverbruik laag is. Die RotorFeeder-voerdrom gee die gewas van onder af aan na die rotors en die spoed word na gelang van die rotor gestel, wat die beste dorsresultate waarborg.

IDEALharvest stel ʼn nuwe standaard in geoutomatiseerde masjienstellings. Akoestiese MAD-sensors en slim algoritmes voorsien die data wat nodig is om vinnig en maklik te kies tussen drie belangrike oesstrategieë. Die rotor- en waaierspoed, boonste en onderste sifopenings en voorwaartse spoed word voortdurend geoptimaliseer om te pas by die gekose strategie vir deurset, korrelgehalte en brandstofverbruik.

Die masjien se gewasvloei word ook in werklike tyd vertoon, sodat die data gebruik kan word om gewasverspreiding in die masjien te assesseer. Gegrond op die werkliketyd-waardes van die geïnstalleerde sensors word die oordragvolumes en gewasverliese op die skerm vertoon. Die Grain Quality Cam help om die korrelgehalte selfs verder te optimaliseer met werkliketyd-vertoning op jou iPad in jou kajuit wat deur Wi-Fi verbind is.

IDEAL Combine CAB

Om te verseker dat niks behalwe skoon gewasse in die gewastenk beland nie, bestaan die unieke en vernuftig eenvoudige IDEALbalance-stelsel uit ʼn dubbele korrelpan. Die voorste korrelpan versamel die materiaal wat deur die rasperstawe gedors word in die voorste deel, en dit word aangestuur na die voorste deel van die voorbereidingsvloer. Die agterste korrelpan versamel die materiaal wat deur die rotortande uitgestoot word en stuur dit agtertoe na die voorbereidingsvloer. So word die voorbereidingsvloer en sif ten volle gebruik, wat die gebruik van die sifgebied maksimaliseer.

Die voorste korrelpan is konkaaf om die materiaal in die middel van die pan te versamel. By die dubbele rotor is die agterste korrelpan konveks sodat die gewasse aan die buitekante versamel word. Dit versprei die gewasse in die masjien behoorlik in alle toestande en tot op ʼn 15 grade-sygradiënt, ʼn eenvoudige ontwerp wat tot 60% van die verliese voorkom in vergelyking met plat panne.

Die Fendt IDEAL 7 het ʼn spesiale korrelpanopsie wat ideaal is vir die enkele rotor. Die kragtige sikloon-skoonmaakwaaier bestaan uit drie waaiereenhede met oop sye vir maksimum luguitlaat. Die waaierspoed kan hidroulies verstel word tussen 250 o.p.m. en 1 400 o.p.m. Die kragtige lugvloei word verdeel vanaf die eerste valstadium, met ʼn konstante lugvloei wat oor die hele lengte van die  skudskoen beweeg vir die beste skoonmaakresultate.

The BaseCut with 56 knives across four rows or the ShortCut with 112 knives across eight rows as optional

Die lang voorbeidingsvloere, hoë afskortings en lang skudskoene voorsien ʼn puik skoonmaakproses. Die meeste kort strooi en kaf word van die graan geskei by die eerste val tussen die voorbereidingsvloer en die oorgangsvloer. Die tweede val na die boonste sif skei dan die onsuiwerhede nog verder af. ʼn Sterk lugvloei verseker perfekte skoonmaakresultate. Die langste siwwe op die mark met die ingeboude afskortings beteken optimale korrelsuiwerheid. Om die beste resultate te lewer onder alle toestande kan die openingswydte van die siwwe gerieflik en maklik elektries vanaf die kajuit verstel word.

Elke model het een of twee strooisnyerweergawes: Die BaseCut met 56 lemme oor vier rye of die ShortCut met 112 lemme oor agt rye as ʼn opsie. Albei snyers het instandhoudingsvrye laers.  Die snystaaf kan sonder gereedskap volgens vyf posisies verstel word. Die kafverspreider is direk aan die einde van die skudskoen, en strooi en kaf word versprei soos verlang. Die verspreidingskywe word hidroulies bedryf om die spoed te verstel. Die drie strooiverspreidingstellings is sny en meng (kaf in die snyer), valstrooi en meng (kaf in die strook) of skei die kaf van die strooi (kaf word sywaarts versprei). Die ActiveSpread-verspreider aan die einde van die strooisnyer word vanuit die kajuit beheer.

Fendt IDEAL Grain tank

Fendt IDEAL Grain tank

Daar is twee korreltenkweergawes, naamlik die Streamer 210 met ʼn 17 100 liter-kapasiteit en ʼn 210 liter/sekonde aflaaitempo of die Streamer 140 met ʼn 12 500 liter-kapasiteit en 140 liter/sekonde op alle PL-masjiene. Die groot deursnee van 480 mm met ʼn paar awegaarvlugte laat toe vir gelyktydige lae spoed. Die korreltenk word binne 81 sekondes ten volle afgelaai. Die aflaaitempo kan hidroulies vanuit die kajuit verstel word. Die korreltenkhysbak is ontwerp vir ʼn deurset van tot 200 t/h. Die hysbakhulsel se deursnee is 239 mm, sodat daar genoeg spasie is vir hoë deurset in alle gewassoorte. Altesaam 40 konvekse spane verseker maksimum prestasie terwyl gewasse sagkens hanteer word.

AirSense Cooling voorsien maksimum afkoelkapasiteit met minimale skoonmaakpogings. Dit bestaan uit ʼn tweedoelige 950 mm-waaier en ʼn afkoelgebied van 2.7 m². Die lug word sentraal onttrek deur ʼn verkoelerrooster aan die bokant. Na gelang van die temperatuur en tyd verander die waaier outomaties sy draairigting en waai dit betroubaar op die verkoeler. Vuilheid en stof belemmer nooit die verkoelingsprestasie nie, aangesien die tweedoelige waaier homself skoonmaak.

Daar is ʼn lugkompressor om die masjien daagliks skoon te maak en dit word direk deur die enjin gedryf. Die maksimum druk is 9.5 bar met ʼn kapasiteit van 60 liter. Twee lugverbindings, een op die kajuittrap en een op die toegangsleer na die enjinplatform, maak dit gerieflik om ʼn lugpyp te konnekteer sodat die masjien maklik op die landery skoongemaak kan word.

Die dieseltenk (1 500 liter) en AdBlue-tenk (180 liter) is agter geleë vir optimale gewigverspreiding. Tesame met die lae brandstofverbruik beteken dit dat die masjien vir baie lang tydperke bedryf kan word.

Beproefde ratkastegnologie word gekombineer met die jongste hidrostatiese gronddryftegnologie. Die rem- en ewenaarsluiting is direk binne die transmissiebehuising. Elke model het ewenaarsluiting as standaard. Die ratkas bied twee reekse, met ʼn spoedreeks van 0-15 km/h of 0-40 km/h in padmodus.

MotionShift laat toe dat albei reekse maklik gewissel kan word gedurende die rit deur middel van ʼn knop op die armleuning. Die spoed kan maklik beheer word deur die veelvuldigefunksie-stuurstok.  ʼn Aantal rystrategieë is beskikbaar om doeltreffendheid en gerief op die pad te verbeter.

In gevorderde modus volg die enjin die vereiste voorwaartse spoed en verminder dit die spoed vir maksimum doeltreffendheid met tot 300 o.p.m., afhangende van die vrag. In tydmodus volg die enjinspoed die verstekspoed. Die DriveCentre herdefinieer die bestuurkonsep heeltemal, met alle pompe, soos vragwaarneminghidroulika of die dryfpomp, wat nou direk bedryf word sodat daar geen prestasieverlies is nie.

The Fendt VisionCab has a viewable window area of 5.75 m² and an 180° panoramic view

The Fendt VisionCab has a viewable window area of 5.75 m² and an 180° panoramic view

Die Fendt VisionCab is die perfekte werksplek met die beste uitsig oor die hegstuk met ʼn vensteroppervlak van 5.75 m² en ʼn panoramiese uitsig van 180°, terwyl die lae geraasvlak van net 73 db ʼn aangename werksatmosfeer skep. Die ruim bestuurkajuit beteken dat bestuurders met lang bene gerieflik kan sit, met ʼn luukse leersitplek asook aktiewe ventilasie.

Die belangrikste deel van die stroper se eenvoudige en intuïtiewe werking is die armleuning, met ʼn handige stuurstok en ʼn membraan/hefboomknop vir die masjien se funksies. Daar is ook ʼn klein digitale skerm vir belangrike masjienstellings. Die Varioterminal 10.4″ help ook dat die masjien maklik verstel kan word deur op ʼn knop te tik of druk. Vir gevorderde masjienfunksies, soos IDEALharvest, kan ʼn iPad in die stabiele en praktiese houer geplaas word om die toepassing te bedryf.

“Dit is ʼn opwindende en heeltemal nuwe ontwerp in vergelyking met enige konvensionele stroper. Dit weerspieël die uitsonderlike gehalte en innovering wat op die jongste neigings en tegnologieë gebaseer is”, sluit mnr. Hall af. Die Fendt IDEAL-reeks is ontwikkel in ooreenstemming met AGCO Africa se verbintenis tot vinnige innovering en evolusie van presisielandbouoplossings om boere te help om meer te lewer met ʼn kleiner impak op die omgewing.


Oor Fendt

Fendt is die toonaangewende hoëtegnologie-handelsmerk binne die AGCO-korporasie vir kliënte wat met net die beste gehalte masjiene en diens tevrede is. Fendt-trekkers en -oesters werk oral ter wêreld, op beroepsplase en vir nie-landbou-gebruik. Kliënte vind baat by innoverende tegnologie om  prestasie, doeltreffendheid en winsgewendheid te verbeter. Wanneer boere en kontrakteurs Fendt se hulpbronvriendelike oplossings gebruik, help dit hulle om wêreldwyd op ʼn volhoubare manier te werk.

By die Duitse persele in Marktoberdorf, Asbach-Bäumenheim, Hohenmölsen, Feucht, Waldstetten en Wolfenbüttel, het AGCO ongeveer 6 000 mense in diens op die gebiede van Navorsing & Ontwikkeling en Verkope & Bemarking, asook Produksie, Diens en Administrasie.

www.fendt.com/za, www.fendt.tv, www.facebook.com/fendtSouthAfrica, www.youtube.com/FendtTV, www.instagram.com/fendt.global

Oor AGCO

AGCO (NYSE:AGCO) is ʼn wêreldwye leier in die ontwerp, vervaardiging en verspreiding van landboumasjinerie en presisielandboutegnologie. AGCO lewer waarde aan hulle kliënte deur hulle gedifferensieerde handelsmerkportefeulje, wat kernhandelsmerke insluit soos Challenger®, Fendt®, GSI®, Massey Ferguson® en Valtra®. Powered by Fuse® se slimboerderyoplossings, AGCO se volledige reeks toerusting en dienste, help boere om ons wêreld op ʼn volhoubare manier te voed. AGCO, wat in 1990 gestig is met die hoofkantoor in Duluth, Georgia, VSA, het netto verkope gehad van $9.1 miljard in 2020. Vir meer inligting, gaan na www.AGCOcorp.com

Vir maatskappynuus, inligting en gebeure, volg ons asseblief op Twitter: @AGCOCorp. Vir finansiële nuus op Twitter, volg asseblief die hutsetiket #AGCOIR.

Mediakontak
Nomvelo Buthelezi
NGAGE Public Relations
Foon: (011) 867-7763
Faks: 086 512 3352
Sel: 083 4088 911
E-pos: nomvelo@ngage.co.za
Web: www.ngage.co.za

Blaai deur NGAGE Media Zone vir nog kliëntpersverklarings en foto’s by http://media.ngage.co.za