Wanneer ’n trekker vir Afrika ontwerp word, moet dit meer kan doen as net krag lewer. Dit moet uithou. Dit moet aanpas. En dit moet werk … dag ná dag, in hitte, stof en uitdagende toestande. Met die bekendstelling van die nuwe Massey Ferguson 5M-reeks in Suid-Afrika bevestig dié ikoniese rooi handelsmerk weereens sy verbintenis tot boere wat nie staantyd kan duld nie. Die MF 5M-reeks, met vyf nuwe modelle wat wissel van 105 pk (79 kW) tot 145 pk (107 kW), is onlangs vir die eerste keer aan Suid-Afrikaanse boere bekend gestel tydens die jaarlikse Balfour Hooidag.

Dit was ’n belangrike oomblik, nie net omdat dit ’n nuwe produkbekendstelling was nie, maar omdat dit ’n trekkerreeks is wat spesifiek ontwerp is met Afrika se werklikhede en behoeftes in gedagte. “Hierdie is nie ’n trekker wat net mooi lyk op papier nie,” sê Hennie van der Walt, Massey Ferguson-handelaar, wat by die Balfour Hooidag teenwoordig was. “Boere kon self sien, inklim en vrae vra. Die terugvoer was dadelik positief, veral oor die eenvoud, krag en praktiese uitleg.”

Een trekker vir elke plaas: Massey Ferguson stel nuwe 5M-reeks bekend

Wanneer ’n trekker vir Afrika ontwerp word, moet dit meer kan doen as net krag lewer. Dit moet uithou. Dit moet aanpas. En dit moet werk … dag ná dag, in hitte, stof en uitdagende toestande. Met die bekendstelling van die nuwe Massey Ferguson 5M-reeks in Suid-Afrika bevestig dié ikoniese rooi handelsmerk weereens sy verbintenis tot boere wat nie staantyd kan duld nie. Die MF 5M-reeks, met vyf nuwe modelle wat wissel van 105 pk (79 kW) tot 145 pk (107 kW), is onlangs vir die eerste keer aan Suid-Afrikaanse boere bekend gestel tydens die jaarlikse Balfour Hooidag.

Dit was ’n belangrike oomblik, nie net omdat dit ’n nuwe produkbekendstelling was nie, maar omdat dit ’n trekkerreeks is wat spesifiek ontwerp is met Afrika se werklikhede en behoeftes in gedagte. “Hierdie is nie ’n trekker wat net mooi lyk op papier nie,” sê Hennie van der Walt, Massey Ferguson-handelaar, wat by die Balfour Hooidag teenwoordig was. “Boere kon self sien, inklim en vrae vra. Die terugvoer was dadelik positief, veral oor die eenvoud, krag en praktiese uitleg.”

Die Massey Ferguson 5M.145 wat vir
die eerste maal aan Suid-Afrikaanse
boere bekend gestel is tydens die
Balfour Hooidag 2026.

Ontwerp vir Afrika – gebou vir uithouvermoë

Massey Ferguson se teenwoordigheid strek oor die hele Afrika-kontinent, waar hul trekkers gebruik word deur kleiner en opkomende boere en selfs groter kommersiële boerderye. Van graan en oliegewasse tot vrugte, neute, katoen, suiker en veeproduksie, hierdie trekkers moet alles kan hanteer.

Die MF 5M-reeks bou voort op die bewese betroubaarheid van vorige Massey Ferguson-modelle, maar met moderne verbeterings wat fokus op doeltreffendheid, laer bedryfskoste en maksimum opbrengs op belegging. “Wat vir my uitstaan van die 5M-reeks is die feit dat hierdie trekker nie ingewikkeld is nie. Dit gee vir boere presies wat hulle nodig het – sterk komponente, goeie hidroulika en ’n werkesel vir elke tipe boerdery,” sê Hennie.

Krag en ekonomie waar dit saak maak

Die reeks word aangedryf deur ’n AGCO Power viersilinder 4,4-liter enjin, bekend vir sy robuustheid en brandstofdoeltreffendheid. Hierdie enjins is ontwerp om presies die regte krag te lewer vir veeleisende take, sonder onnodige brandstofverbruik. Met diensintervalle van 400 uur en ’n groter brandstoftenk, beteken dit minder staantyd, minder diensbeurte en meer produktiewe ure in die land. Vir boere wat lang dae werk tydens plant- en oestyd, is dit beslis ’n voordeel.

Die MF 5M.125 wys dat hy nie terugstaan vir harde werk tydens die jaarlikse die Balfour Hooidag nie.

“Baie boere het by die Balfour Hooidag spesifiek gevra oor onderhoud en brandstofverbruik. Hulle wil weet: gaan hierdie trekker my geld spaar oor vyf of 10 jaar? En die antwoord is ja, dis presies waarvoor die 5M gebou is,”
vertel Hennie.

Die MF 5M.145 kombineer eenvoudige, gebruikersvriendelike kontroles met doelgerigte tegnologie, alles sonder om in te boet op Massey Ferguson se bewese betroubaarheid wat verseker dat die werk gedoen word.

Buigsaam genoeg vir enige taak

Een van die sterkste kenmerke van die MF 5M-reeks is sy aanpasbaarheid. Boere kan kies uit verskillende spesifikasiepakkette, van die robuuste basiese “Base”-model tot die meer gesofistikeerde “Classic”-, “Deluxe”- en “Dyna-4”-weergawes. Hierdie opsies bied aan boere die gemoedsrus om net te betaal vir die tegnologie en behoeftes wat hul boerdery werklik nodig het.

Die trekkers bied ’n keuse tussen 12×12-ratkaste of die Dyna-4-transmissie met 16×16-ratte, asook ’n meganiese, “powershuttle” of kruipspoed skakelopsies beskikbaar. Die 55°-draaisirkel van die vooras maak die trekker besonder aanbaar wat lekker draai veral op jou wenakkers, en ook tydens laaiwerk en in beperkte ruimtes.

Die “Hydralock”-stelsel, wat outomaties vierwielaandrywing aktiveer wanneer die remme gebruik word, verbeter veiligheid en beheer, terwyl dit ook bandslytasie verminder.

Hidroulika en ligvermoë wat nie terugstaan nie

Met ’n keuse tussen 57 l/min of ’n hoëkapasiteit 98 l/min hidrouliese pomp, staan die MF 5M-reeks nie terug wanneer dit kom by die sleep van implemente of die gebruik van laaigraaf nie.

“Ons sien toenemend dat boere een trekker wil hê wat alles kan doen,” sê Hennie. “Van hooimaak en baalwerk tot laaiwerk en grondvoorbereiding, en soos ons vandag tydens die hooidag kon sien, die veelsydige 5M pas perfek in daardie rol.”

Boere se eerste indrukke van die MF 5M-reeks

Die reaksie van Suid-Afrikaanse boere op die nuwe MF 5M-reeks was onmiddellik positief. Gerhard Grobler sê hy het vandag vir die eerste keer die voorreg gehad om in ’n 5M.145 trekker in te klim:

Gerhard Grobler

“Ek sit hier in ’n kajuit wat baie gemaklik is. Hierdie trekker het drie hidrouliese banke agter met ’n vloei van 98 liter per minuut. Die spoedbeheerknoppie hou die PTO-spoed deurlopend reg, so jou masjien werk presies soos dit moet, ongeag of jy stadiger of vinniger ry. Die kajuit is baie ruim en jy kan regtig mooi sien, dit is ’n mooi trekker en iets om na te kyk.”

Ruan Grobler deel ook sy indrukke:

“Die rooi bly maar mooi! Ek hou ook van die nuwe grys streep op die ontwerp. Die opgedateerde hidrouliese stelsel maak dit makliker om fyn verstellings te doen. By die MF 5M.125 is die vorentoe-en trustuur (shuttle) aan die linkerkant van die stuurwiel uiters gerieflik, veral om in lande om te draai op die wenakkers. Die nuwe revolusie regulerings-knoppie is ’n groot plus – as jy byvoorbeeld ’n tolsnyer gehaak het, hou die trekker nou jou PTO-revolusies perfek. Voeg daarby die ekstra spasie in die kajuit en ’n dakkie vir beskerming teen die son, en jy kry ’n trekker wat regtig indruk maak. Ek is werklik baie beïndruk.”

Ruan Grobler

Slim boerdery – wanneer jy dit nodig het

Vir boere wat gereed is om die volgende stap te neem, kan sekere MF 5M-kajuitmodelle vervaardig word met MF “Smart Farming”. Dit sluit onder meer “MF Guide” (outomatiese stuur), seksiebeheer en veranderlike toediening in. Presisieboerdery help om oorvleueling te verminder, insetkoste te bespaar en opbrengste te maksimeer.

’n Trekker vir vandag … en môre

Met die 5M-reeks se moderne Massey Ferguson-ontwerp, verbeterde kajuitgerief, opsionele meganiese kajuitvering en ’n wye keuse van Massey Ferguson-laaigraaf s en bykomstighede, is hierdie reeks ’n praktiese belegging vir boere wat vooruit beplan. Die reeks bevestig Massey Ferguson se doel: om betroubare, duursame en winsgewende oplossings te bied wat boere help om te groei, ongeag hul skaal of sektor.

“Die 5M bring Massey Ferguson terug na sy kern. Betroubaarheid, eenvoud en waarde. Dit is ’n trekker wat jy toe oë kan koop met vertroue,” sluit Hennie af.

Laai PDF hier af [Klik hier] Vir meer inligting of om ’n demonstrasie te bespreek, kontak jou naaste gemagtigde Massey Ferguson-handelaar of besoek hulle webwerf by www.masseyferguson.com