In die Hoëveld van Suid-Afrika speel hooiproduksie ’n kardinale rol in die sukses van baie gemengde boerderye. Met koue winters, droeër seisoene en ’n sterk fokus op bees- en skaapproduksie, is goeie gehalte voer ’n noodsaaklikheid. Wanneer die reën in die somer val en weidings groei, begin boere reeds vooruit beplan vir die maande wanneer natuurlike veldproduksie afneem. Dit beteken dat die venster om hooi te sny, droog te maak en te baal optimaal benut moet word.
Om hierdie rede is betroubare en doeltreffende toerusting onontbeerlik in hooiproduksie. Elke uur se werk tel wanneer die weer draai of wanneer groot hoeveelhede voer vinnig verwerk moet word. Vir boere beteken dit dat ’n baler nie net bale moet maak nie, hy moet dit konsekwent, vinnig en sonder probleme doen.
73 344 bale met een baler … ja, jy het reg gelees! Almero du Pisanie boer saam met sy pa sedert 2003 in die Morgenzon-distrik met onderskeidelik vee en ’n saaiery. Die Du Pisanies se groot vee-komponent vereis dat daar jaarliks groot hoeveelhede voer gemaak moet word vir hul diere, en op ’n stadium het hulle ook aansienlike volumes voer verkoop. Volgens Almero is die baler nog lank nie klaar gewerk nie. Hy is vol vertroue dat hulle die mylpaal van 100 000 bale met dieselfde baler gaan bereik.
Waarom ’n Massey-baler?
Almero vertel: “Ons verhouding met Massey Ferguson het in 2019 begin toe ons hierdie MF 2125F-baler aangeskaf het. Ons het terselfdertyd ook ’n Massey-snyer by hulle gekoop.”

Die bewys vasgevang op die baler se beheerskerm: 73 344 bale gemaak met die Massey Ferguson MF 2125F.
Volgens hom was daar ’n paar spesifieke redes waarom hierdie baler die regte keuse vir hul boerdery was. “Die robuustheid van die baler het dadelik vir ons uitgestaan. Nog iets wat vir ons baie belangrik was, is dat die baler ghriesbare laers (bearings) het. Dit maak ’n groot verskil wanneer dit by onderhoud en die leeftyd van die baler se komponente kom.”

Die Massey Ferguson MF 2125F wat 73 344 bale gemaak het by Du Pisanie Boerdery.
Sedert die baler in gebruik geneem is, het dit reeds indrukwekkende werk verrig. “Ons het nog nie een van die laers (bearings) vervang nie, en dit is ná 73 344 bale,” vertel Almero. “Wat ons wel vervang het, is twee stelle kettings, en ons het onlangs die derde stel nuwe kettings opgesit.”
Vir die Du Pisanie-boerdery pas die MF 2125F-baler perfek by hul behoef-tes. Volgens Almero lê die waarde van die baler vir hulle in sy lae onderhoudsvereistes en onderhoudskoste, tesame met sy hoë produktiwiteit, doeltreffendheid en kapasiteit tydens hooimaak.
Is goeie instandhouding die geheim?

Almero du Pisanie by sy betroubare Massey Ferguson MF 2125F. Die baler wat meer as 73 000 bale gemaak het, lyk nog soos ’n nuwe een!
Hierdie baler vereis nie baie instandhouding nie, maar daar word steeds gesorg dat alles gereeld nagegaan word. Elke laer het ’n ghriespunt wat op die plaas gewoonlik een maal elke twee tot drie dae gesmeer word. Die olie-kannetjie vir die baler se outomatiese kettingsmeer-stelsel word ook gereeld volgehou en dopgehou sodat die kettings altyd voldoende gesmeer bly.
Almero glo dat goeie onderhoud ’n groot rol speel in die lang lewensduur van die baler. “Dit is belangrik om die baler skoon te hou en die nodige onderhoud te doen wanneer dit nodig is. As jy na jou toerusting kyk, sal dit na jou kyk.”
Hy sê egter dat instandhouding nie die enigste rede vir die baler se lang en betroubare diens is nie. “Goeie instandhouding help beslis baie, maar die gehalte en robuustheid van die baler speel ook ’n baie groot rol,” verduidelik hy.
Kapasiteit en egalige optelwerk
Vir die Du Pisanies was hierdie baler wat met net werk ’n nuwe ervaring. “Ons het eintlik eers van net met hierdie baler geleer,” vertel Almero. “Voorheen het ons nog altyd met toubalers gewerk, maar hierdie baler het ons hele baalmaakproses reeds aansienlik verbeter.”
Op die plaas maak hulle gewoonlik bale wat tussen 290 en 300 kg weeg, en gemiddeld word daar ongeveer 10 000 bale per jaar/seisoen met die baler gemaak. Die hoeveelheid bale wat per hektaar gemaak word, wissel egter van seisoen tot seisoen.
“Met tef kry ons gewoonlik sowat 12 bale per hektaar, terwyl ons oulandsgras tot 25 bale per hektaar kan afhaal, maar uiteindelik bly dit baie seisoensgebonde hoeveel jy per hektaar kan afhaal,” verduidelik hy.
“Een ding wat vir my uitstaan en wat hierdie baler besonders maak, is sy camless pick-up. Hierdie stelsel vereis baie min onderhoud en dra by tot die baler se betroubaarheid. Dit plaas hierdie baler regtig in ’n ander klas,” sê Almero. Die baler beskik oor ’n vaste baalkamer van 1,2 meter, terwyl die baaldruk gerieflik vanuit die trekker se kajuit verstel kan word.

Die camless-optelstelsel is die een ding wat vir Almero van die Massey Ferguson-baler uitstaan en waarom hy voel die baler is eenvoudig in ’n ander klas.
Massey is daar vir die boer
“Ek kry baie goeie diens en onder-steuning vanaf Massey, en hul tegniese ondersteuning is ook uitstekend, selfs vir die trekkers,” sê Almero. “Ek sal hierdie baler vir enige mede-boere aanbeveel weens sy effektiwiteit, produktiwiteit en indrukwekkende kapasiteit.”
Hy is tans besig om op te gradeer na die nuwer model, die MF 3130F Extra-baler. “Ons is baie opgewonde om na die nuwer model oor te skakel. Ons verwag meer kapasiteit, groter uithouvermoë, en hopelik sal ons selfs meer as die 73 344 bale wat ons reeds gemaak het, bereik,” vertel hy laggend.
Randell Swart, verkoopsverteenwoordiger van JWL Landbou, Ermelo-distrik, sê dat die manier waarop Almero die baler in stand hou, beslis bygedra het tot die hoeveelheid bale wat hy tot dusver kon maak, sowel as tot die algehele gehalte van die baler. “’n Baler wat skoon gehou word, hou langer. Ek is vol vertroue in die manier waarop Almero sy toerusting in stand hou en na dit kyk dat hierdie baler definitief die 100 000-bale mylpaal sal bereik en miskien selfs meer,” meen hy. Randell is ook baie opgewonde oor die impak wat die nuwe MF 3130F Extra-baler op Almero se plaas gaan hê.
MF 2125F teenoor MF 3130F Extra

Randell Swart van JWL Landbou saam met Almero du Pisanie by die MF 2125F-baler.
Randell lig ’n paar verskille uit tussen die nuwe model en die ouer baler:
- Die nuwe model beskik ook oor die camless pick-up
- Die nuwe model is toegerus met swaardienskettings en ratkaste
- Die nuwe model het steeds smeerbare laers, soos die ouer model, ’n groot pluspunt
- Die nuwe model beskik oor ’n verbeterde bindmeganisme teenoor die ouer model
“Dit is ongelooflik lekker om sulke positiewe terugvoer van ’n kliënt te kry,” sê Randell.
Vir meer inligting oor Massey Ferguson se betroubare balers, kontak jou naaste gemagtigde Massey Ferguson-handelaar of besoek hul webwerf by www.masseyferguson.com. Dankie aan JWL vir hierdie getuigskrif. Boer baal 73 344 bale met Massey-baler